July 20, 2011

Dag 5: St Vigil na Alleghe

79km
2200m


Honde en katte het dit gereen toe ons vanoggend wakker word. Kampers het vanoggend in die hotel gaan ontbyt eet en ons het die bederf gebruik om ons beter te laat voel oor die trietsige weer.


Vandag se roete het twee groot klimme gehad, die eerste tot 2100m bo seevlak en nommer twee sou ons tot 2500m neem. Reen in die dorp beteken dikwels sneeu in die berge. Dit van die Dolomites wat ons tussen die reen en wolke kon sien was baie indrukwekkend. Soos ons geklim het het dit al hoe kouer geword en ons aandag is weggelei van die mooi berge en het onwillekeurig gefokus op koue vingers en tone. Teen 1900m het dit gesneeu ( ja dit is in teorie somer in Europa, maar dis mos maar hoe berge werk). Bo was ons bitter koud en het so gou moontlik hoogte probeer verloor, maar tegniese afdraande is nie maklik met stokstywe vingers wat sukkel om rem te trek en ratte te wissel nie.


Ons is gelukkig sonder voorval veilig by die berg af tot by die eerste waterpunt waar daar vir ons 'n verrassing gewag het. Die organiseerders het besluit om die roete te verander en die tweede klim uit te sny weens die weer. Die amptelike eindpunt van die dag was nou by die tweede waterpunt 20km verder. Ons was nogal verlig met die dat ons nou net by 2100m byna verkluim het, sou 2500m niks goed ingehou het nie.


Ons het die 20km getrap, amptelik klaar gemaak en moes toe teerpad langs tot in Alleghe ry. Wat ons nie besef het nie was dat die pad 'n pas tot by 2100m was en dan 25km afdraande tot in die dorp. Onder normale omstandighede sou ons so aftrap verwelkom het, maar as jy papnat is en die kwik 'n skrale graadjie celcius op die termometer stoot, is dit minder aanloklik.


Koud en vuil het ons in Alleghe aangekom en was verheug dat ons warm storte kon opspoor (en dat dit net vir vrouens was - nie altyd die geval by hierdie Europese geleenthede nie). Ons is 'n bietjie spyt dat die dag se roete verander is, die uitsig vanaf die tweede piek is glo van die beste in Europa - nie dat jy veel sou kon sien in die weer nie. Ook omdat die hele pad af "single track" sou wees - daarna het ons baie uitgesien.


So dag 5 is in die sakkie, dit het bietjie anders verloop as wat ons verwag het, maar nou ja. 3 dae oor.





1 comment:

  1. hou bene hou! dit is so lekker om julle avontuur te volg - volgende keer soek ons net 'n 'helmet cam' :). geniet die laaste 3 dae

    ReplyDelete