Die Span en die eindstreep |
Amptelik klaar - TransAlps 2011 |
Met ons liggame nou goed in roetine is ons vroeg oggend op en die standaard take is verrig. Vir die laaste keer het ons matrasse opgerol, sakke gepak, hawermoutkoekies geëet sodat ons vitamienes kan afsluk, FIT aangemaak en roompies op al die strategiese plekke gesmeer. Vandag word die rëen baadjies nie aangetrek nie want koud kry het nou al lankal nuwe betekenis gekry.
Ons “groupies” het ons in Trento ontmoet. Onder leiding van Marna se Gert, was hulle gereed om aan te moedig om elke hoek en draai. Hulle is vinnig, maar hartlik (Gert besonders hartlik) welkom geheet voor ons in die wegspringblok aangetree het, vir oulaas. Die Kaalfoeters is opgegradeer na blok A. Nou word ons gejaag deur gedetermineerde deelnemers in Blok B, wat soos windhonde-op-jag agter ons aangetree staan.
Die laaste dag se trap het begin. Daar het drie bulte tussen ons en die eindstreep gelê. Die Pappa bult, sowat 900m klim oor 10 km. ‘n Mamma bult en ‘n klein, genadige teerpad Baba klim tot waar Lago de Garda ver op die horison in sig was. Ons bene was weer sterk en ons het gemaklik geklim en is maltrap die anderkant af. Aan die onderkant van Baba bult was daar not ‘n plat 20 km oor tot in Riva. Die eerste stukkie het ons in ‘n gemengde span se “slip” gery, maar hulle het te stadig geraak en ons besluit toe om ons eie kole te gooi want nou het ons haastig geraak. Kort voor lank het ons twee manne ingery, maar manne wat mens inry is definitief nie manne wat kan byhou nie, so ons was weer op ons eie.
Om ‘n 90 grade draai en daar was dit: die eindstreep van die TransAlps 2011.
8 dae se hard trap, bulte klim, afdraand jaag, koud kry, warm kry, moeg wees, klippe koue, bloed sweet… in ‘n oogwink verby.
Terleurstend is geen trane gestort in die groot oomblik nie, maar daar is ‘n diepe tevredendheid en gevoel van oorwinning ervaar.Die TransAlp-kerf is op die stok.
Die groot feesvieringe het afgeskop. Prosecco, ‘n Monte Cristo sigaar, ‘n lekker stoep, treinspoor (sonder trein sover ons weet) en fantastiese mense, ‘n resep vir groot partytjie. Ouder gewoonte het niemand terleurgestel nie en daar is gekuier tot in die klein uurtjies van die nag.
Ons het verder 3 dae saam met die “groupies” in Italië spandeer, maar ons sal foto’s laat vertel van die heerlike tyd wat ons gehad het. Ons het ook die vorige dae se blogs bygewerk met beter foto’s, gaan kyk asseblief want ons het deur asemrowende plekke getrap.
Hierdie is ons laaste blog. Ons wil vir julle almal wat ons wedervaringe gevolg het oor die laaste 6 maande dankie sê. Dit is ongelooflike dat vriende en familie jou lewe volg met soveel belangstelling. Ons waardeer julle almal baie.
Ter slotsom laaste woorde van die Span:
Marna aan die woord
Ek het ‘n paar dankies.
Gert: dankie dat jy jou vrou laat wild hardloop, jy ken en verstaan my.
Lizeli: Span jy is top kwaliteit, ek sal enige tyd enige berg kaalvoet saam met jou aandurf. Baie baie dankie dat ek in jou span kon wees.
My gunsteling aanhaling is die woorde van Saint Augustine: “The glory of God is man fully alive”. Ek kan sê ek het die afgelope ses maande voluit geleef, wat ‘n voorreg en daarvoor dankie Here.
Lizeli se laaste woorde:
Gestroop van my gemak en uitdagings op alle vlakke het weereens vir my perspektief gegee. Ek is gesëen met avontuur,nuwe familie en vriendskappe en het die oorvloed van God se liefde ervaar.
Aan al my vriende wat my ondersteun het en nooit opgehou het om na fietsry stories te luister nie, julle is kosbaar en onvervangbaar. Liz en Tess dankie.
Marna en Gert, julle is my familie en hartsvriende. Dankie dat julle vir my nog 'n huis gee, my emosioneel en geestelik dra. Julle was die kleur in my 6 maande en ek sien uit na verder droom saam.
Marna span, jy is 'n rots en ek kan die avontuur nie sonder jou indink nie.
Fietsry is lekker !
Foto's: Klaarmaak
Die Span saam met die manne, Nelo en Peet |
Die Span saam met ons "Groupies" |
Bad in Lago de Garda |
Foto's: Feesvier
Foto's: Italie kuier