April 25, 2011

Snijeg Trap

Vroegdag op na ‘n fantastiese nag se rus met die gedruis van die stroom in ons ore.  Ons word in die pad gesteek met ‘n handvol gekookte eiers in die gees van paasfees en dit was met groot afwagting dat ons die pad na Zabljak aanvat. Die 60km het ons geneem op met ‘n 5km klim tot hoog in die ”Snijeg”  bedekte pieke…klim maak jou sterk.  Hier ontdek ons die pragtige seegroen Zabojsko meer. 

Soos ou hande, of moet ons sê bene, het ons die klipperige grasvelde genavigeer onder toesig van OB (Ouboet  Peet). Hierdie roete is gekies om die kniediepte sneeu te vermy wat lekker aan jou momentum vreet en sorg vir ‘n paar harde, onvermydelike onmoetings met Moederaarde.  Harde woorde is gepreek nou en dan as die meisies die sneeu met ‘n verkeerde lyn of teen ‘n slakkepas aanpak…maar met kan ons sê dat ons tegniese vaardighede saam met ons selfvertroue gegroei het.




Montenegro stel glad nie teleur nie.  Die hele dag in die ongerepte natuurskoon sonder om enige beskawing teë te kom. Ons het vir 7 ure GEEN ander mense gesien nie. Die lappieskombers landskap versier met donswit sneeu, verlate nomade hutte en langhaar skape het gesorg vir prentjie mooi tonele.




Die dag was weereens ‘n treffer! Ons word sterk, ons beleef ware Montenegran gasvryheid met elke kappie Rajika en glimlag, ons ervaar ten volle, rus en leef in OORVLOED. Ons sluit die dag af met ‘n verfrissende Nicksic bier en ‘n welverdiende bord gerookte ham, tuisgemaakte kaas, eier (OB se 8ste eier van die dag) en vars brood. Seer lywe onder ‘n snoesige kombers.  Ons sien uit na more se avonture.

No comments:

Post a Comment