April 29, 2011

Berg en baai

Met Perast as basis kon ons die bagasie vandag agterlaat. OB het vir ons 'n sirkel roete beplan, berg op, berg af aan die anderkant en langs die baai van Kotor terug tot in Perast.


Ons het die eerste 1000m fluks geklim en was reg vir die laaste 600m. Die graniet koppe, lentegroen bos was indrukwekkend en die klim geleidelik en maklik.







Van so 1200m af het ons lappies sneeu gekry. Van 1400m was die sneeu enkeldiep en moes ons fietsstoot. As die sneeu op 1400m diep le, wie hou aan en dink dit gaan beter word soos hulle aangaan as hulle eers die berg op 1650m kan oorsteek?


So het ons maar deurgedruk en ons fietse deur die sneeu gestoot vir 3km, die keer met kortbroeke en sonder "booties". Toe bietjie ysreen om ons verder af te koel.



Ons was redelike koud toe ons eindelik by die nekkie kom vanwaar ons kon berg af. Die afdraandwind was yskoud en toe.....'n Kafana! Met warm koffie! Pannekoek en....'n kaggel!


 





Toe ons lekker warm en versadig is en reg maak om te vetrek, toe begin dit reen. Ons sit toe maar weer en bestel 'n Rajika.


Toe die reen oortrek het ons 'n lekker afdraande oor en 'n pragtige plat rit al langs die baai in die son!!! Ons het 'n goeie 90km gery en nou span ons uit. Gert kom vannaand en more is vakansie!








April 28, 2011

Rustig langs die baai

Hierdie span raak nou gesoute trappers! Wakker voor ons wekker om 7:00, ons laai elk 3 porsies ontbyt in by ons 4 ster hotel sonder skaamte en ons pak vinnig die res in vir 'n smul lekker voedsame middagete later die dag.


Ons is oppad na Grahovo waar ons hoop om 'n slaapplek te kry. Die roete neem ons oor 'n egalige klim om klipkoppies en natuurlike woude. Ons word weereens verras deur die uniekheid van die landskap, met sy vrugteboorde en kronkel padjies, wat lekker taai was op die bene. Dit was 'n hittete of ons het nare onderonsie met 'n beer van 'n hond gehad, maar gelukkig het OB se harde stem hom diep in sy spore laat trap.

 


 



Montenegro is 'n wilde land, met dramatiese natuurtonele, bere en baie slange. Sy grootste aantrekkingskrag is wel sy mense. Met die bereik van ons eindbestemming Grohovo, besef ons vinnig dat daar geen opsie vir 'n slaapplek sal wees nie. Weereens kom die mense vir ons deur, en 'n vriendelike ou omie laat sy krywa net daar staan en nooi ons nader vir glasie Montenegran gasvryheid. Die tannie het van oor tot oor geglimlag en haar vriend aan die meisies probeer verkoop, terwyl die mans roetes bespreek het. Mense met 'n nederige bestaan in hulle een vertrek huis, het weereens ons ervaring uitsonderlik gemaak.




 





Die oorspronklike plan word geclause (enige plan het 'n "break clause") en ons is oppad Perast toe. Die pragtige nuut geteerde pad neem ons al die pad tot teen aan die lieflike kuslyn van die Kotor baai. Fotos:





 



Perast is paradys. Kalm waters van die Kotor baai, omring deur middeleeuse klip geboue en omvouende bergpieke.


 







Rus......braai......rooiwyn en baie tevrede. Ons gaan drie aande hier spandeer en Gert sluit ook by ons aan more.
 





 




April 27, 2011

Admin

'n Dag van goeie intensies met twee groot klimme en twee heerlike afdraandes. Wel ons is die eerste klim op, dit was oor 30km, geleidelik saammet die kontoer, maar die sneeu het diep gele bo en ons moes 3km lank ons fietse deur kniediep sneeu stoot.

 Dis beerwereld waardeer ons vandag getrap het. Ons skreeuende nat remme het hulle weg gehou tot die meisies se teleurstelling en OB se verligting. Ons moes tevrede wees met 'n


spoor.



Ons was baie verlig om weer te kon trap toe ons die afdraande tref.







Ongelukkig is dit hier waar ons tegniese moeilikheid begin het. Ons almal het die toer "Tubeless" begin (vir die nie fietsryers dit is wanneer jy spesiale bande gebruik wat jy met slym seel sodat jy nie binnebande nodig het nie, as jy 'n gat kry, seel die slym dit net sonder dat jy eens weet). Maar ongelukkig het Marna se een band se slym op die vliegtuig uitgeloop en moes ons na dag drie 'n binneband insit. Met die klipperige afdraande vandag het die binneband gesukkel met slangbyte - basies word jou binneband tussen die buiteband en die wiel self vasgeknyp en kry jy twee gate oorkant mekaar. Lang storie kort, ons is deur twee binnebande en al ons "patches" en toe weer...'n papwiel. 40km van ons bestemming wat ook die naaste dorp is waar ons nuwe bande kon koop. Maar Montenegran gasvryheid het weer nie teleurgestel, die kleinste Jeepie het ons al drie en fietse opgelaai, al die pad Niksic toe gebring, vir die meisies koffie en koekies gegee terwyl Peet winkel toe gery is om bande te kry.
 
 





Die groepsmoraal was sommer weer goed met die intree slag in ons aand se verblyf! Ons het nie veel van 'n keuse gehad nie want Niksic bied nie veel nie, maar wat 'n bederf het ons gevind in die Marshal Hotel wat skitter met 4 Montenegran sterre. Ons kon nie vinnig genoeg die borrelbad en wit, snoesige japonne uit probeer nie en het dadelik uitgespan en tuisgemaak. Ons mag dalk gemaak wees van staal maar weet ook hoe om die kwaliteit van die lewe te geniet!







'n Taai Trap

Ons het eerste ding die plaaslike koerant gaan koop om ons artikel in druk te sien. By die winkel was die bestuurder hoeka besig om oor ons te lees en het vir Lizeli op die naam gegroet. Lizeli het aangebied om sy koerant te teken, maar hy het gese dit is nie nodig nie.




 

Die dag se trap het met 'n 9km klim begin, gevolg deur 'n plesierige, yskoue afdraande. Daarna is ons 'n vallei af met 'n mislike los klip pad en toe moes ons weer daar uit trap. 'n Paar "rolling hills" later het ons by Trsa gekom, waar ons baie verjeug was om op 'n Kafana af te kom waar ons warm koffie, pannekoeke en heerlike vars brood en kaas verorber het. Met ons mage wat bult was ons bitter lui om verder te trap en toe dit begin reen het dit nie gehelp nie.








 

Trsa was halfpad en as ons gedink het ons het geklim tot hier, was ons in vir 'n verassing. Berge op en valleie af het opgetel na 2500m se klim oor die 80km wat ons afgele het. Dit is vergelykbaar met 6 uit die 8 dae van die TransAlps, goeie voorbereiding!


Die diverse landskap het weereens ons asems weggeslaan wat die kilometers vinnig laat aftel.








Verlate gemeenskappe van bestaansboere. Die mense is bitter vriendelik en baie trots op hulle land en natuurskoon.




Ons laaste berg af was na die blou-blou Piva meer. Natuurlik moes ons die anderkant uitklim, ons laaste vir die dag. Ons was nie seker of daar slaapplek sou wees bo die pas nie, maar was ons oorstelp toe 'n gesellige restaurant en kroeg ons verwelkom met lieflike hutjies waar ons kan oornag. Ons is weereend in die 7e hemel!






 







 





 





 





 


April 25, 2011

Wat afgaan moet opkom

Luilekker wakker geword in 'n vakansie bui, want ons staan vandag oor in Zabljak en daar is niks wat ons haas nie. Ons kon al ons bagasie agterlaat en het veerlig gevoel op ons ysterperde.


Ons eerste stop was die toeriste kantoor om seker te maak dat ons mis op niks uit nie. Die personeel en plaaslike joernalis was baie hulpvaardig en opgewonde om te hoor ons kom van Suid Afrika. Die span is blykbaar die eerste Suid Afrikaners om Zabljak te besoek en summier ruk die joenalis oom sy notaboek en kamera uit. Die artikel is reeds pp die internet gepubliseer.....merkwaardig vir 'n land waar ons nog geen internet kafee raakgeloop het nie. Gaan soek Die Span se debuut publikasie by www.vijesti.me


Ons fietsry dag het begin met 'n lieflike 10km afdraand tot op die wal van die Tara rivier. Halfpad af het padwerkers ons bedien met 'n dubbele dosis Rajika nadat hulle OB se bobeenkrag uitgevoel het, die meisies het gelukkig hierdie evaluasie vrygespring.


Onder in die vallei staan rye vrugtebome in bod, piekante huisies op die bank van die Tara. 'n Klein klip kerkie bedien die woord aan die paar mense wat hier bly. In ware Montenegran gasvryheid staan drie bottels Rajika op die drumpel van die kerkhof.







Ons het 'n feesmaal langs die Tara geniet in voorbereiding, want: wat afkom, moet weer opgaan....






So ons moes 1000m hoogte klim oor 10km om te betaal vir die afdraand wat ons in 20 minute afgejaag het. Dit het ons 1 uur en 40 minute geneem, maar ons was sterk en het goed gevoel. Goeie voorbereiding vir wat ons op die TransAlps kan verwag, dit is immers 'n oefenkamp.


Terug in Zabjlek het ons vinning 'n biertjie langs die Black Lake gaan drink en toe kom fietsdiens, want more is ons weer op die langpad.