July 19, 2011

Dag 4: Brixen na St Vigil

73km
3500m


Dag 4 het soos ouder gewoonte afgeskop op die temalied: "Highway to hell". Die weer was perfek en met warm sonstrale op ons skouers het ons die eerste 17km klim uit Brixen aangedurf. Hierdie klim was teen 'n gemiddelde helling van 10% wat ons geneem het van 550m na 2100m. Dit was 'n taai klim, maar soos die span se: as jy aanhou sal jy bo kom.

Hierna was dit 'n klein affie...en op....en 'n bietjie speeltyd ("afshow" tyd vir Lizeli) op "single track". Tussendeur bome, oor riviere omsingel deur die Dolomites. Dit was lekker maar harde werk. Baie van die dag se klimme was teen 'n onmoontlike gradient en moes ons tevergeefs fietse stoot.

Ons gee toe dat die Europeers, wat in die berge grootword, sterker as ons kan klim, maar hulle ry in ons stof op die afdraandes. ('n Trapper het Lizeli op die eindstreep kom opsoek met die woorde: "I have never seen a women riding downhill as awesome as you do").

Die laaste klim van die dag was wild en het oneindig gevoel. Met Marna wat kan harde klippe kou het die span dit tot bo gemaak. Die laaste afdraande in die dorp in was blitsig en ons is vergesel deur ons eie kameraman tot oor die eindstreep.

Dit was die hardste dag nog. Ons het 'n lang 7 ure getrap en is terug in posisie 11. St Vigil het gesorg vir 'n reuse maaltyd van lasagne, halwe hoenders, slaaie, kaas, broodjies en biere op die vat. Moeg en trommeldik gaan ons nou slaap.







July 18, 2011

Dag 3: Mayrhofen to Brixen

94km
2200m


Dag 3 het begin met opdraande, 31km op. Die langste klim van ons lewens en die vooruitsig: reen, sneeu, onbegaanbare klip terein.

Ons het sterk begin en die eerste 20km se egalige klim het ons in bietjie meer as 'n uur kafgetrap. Van hier het die pad gekronkel verby 'n diep blou meer en oor die gevreesde sneeu bedekte pieke. Die laaste 5 km moes ons fietse dra oor sneeubedekte klip trappe en deure strome koue water- natuurlik spankaptein Marna se gunstelling ding om te doen, want haar "carbon" Rocky Mountain is mos veerlig. Die landskap was weereens pragtig.

Op die kruin het ons met groot tevredenheid die grens oorgesteek tussen Oostenryk en Italie. Ons het die 30km klim in 3 ure voltooi- goeie werk span! Die snerpende wind het gesorg dat daar nie veel tyd op die kruin spandeer was nie, en ons het haastig die lekker afdraande aangepak. Oor die volgende 64 km het ons vinnig afstand gewen, hard getrap en Brixen binne gery deur "cobble stone" straatjies en verby aanloklike koffie winkels - 'n pragtige dorpie. Ons het die dag in 5uur 25 minute voltooi. Hierdie dag was die wenners se langste dag nog maar ons kortste :)

Dit was 'n raakvat dag! Ons was die 9e damesspan op die dag. Ons het onsself beloon met Gelati en regte Italiaanse Cappucino's.

More is ons grootste dag, met steil klimme en vreesaanjaende afdraandes!









Top "second" - Dan ons man.

Welverdiende Italiaanse koffie

July 17, 2011

Dag 2: Weerberg na Mayrhofen

68km
2342m

8:15 was ons in die wegspringblokke. Met ons pienkkaart het ons in blok B beland terwyl die manne in blok D moes wegspring. In blok B het geen van die mansdeelnemers beenhare nie en spanbestuurders maak seker niemand druk in nie, om julle 'n idee te gee van die mense om ons.

Die dag het begin met 'n stywe 11km klim en weer af om 'n sirkel te voltooi na waar ons begin het, baie onnodig.

Na 'n vinnige waterstop het ons die tweede berg van die dag begin trap. Die pad het al met die kant van 'n vallei opgekronkel, dit was asemrowend mooi, die enigste nadeel was dat jy byna die hele klim kon sien. Fietsryers het soos lui miere al met die berg opgery waar ons nog moes ry! Maar met aanhou het ons bo gekom en is beloon met 'n lekker stukkie "single track" af.

Die afdraande waarvoor ons so hard gewerk het was in oogwink verby, toe die derde klim.

Dit was die korste klim van die dag, maar ook die steilste met 'n gradient van 11.5%. Dat dit die laaste klim van die dag was en daarna net 20km afdraande huis toe was ons groot motivering. Ons het oorkom en toe laat wiel huis toe.

Ons het 'n rapsie langer getrap as gister aan die taai dag, maar is weereens baie tevrede met die dag.

Nou pasta en kuier. More 'n lang 94km en dit lyk na reen.











July 16, 2011

Dag 1: Mittenwald na Weerberg


93km
2100m

Teen 5:00 was die kamp reeds in rep en roer. Die dat almal so vroeg begin roompies smeer kon ons nie betyds ons naiewiteit beskerm nie en het ons die eerste Duitser in sy hart rate monitor gesien (en niks anders nie).

Na ontbyt is ons in dorp toe vir die wegspring. Ons klomp Suid-Afrikaners het almal saam in die blok gestaan en so gesels dat ons die afsit gemis het.

Ons het vinnig deur die dorp gevleg en was kort voor lank op 'n gryspad wat ons met die mooiste vallei afgeneem het. Na 20km ons eerste klim van die dag. Ons het 'n lekker ritme gekry en soos met meeste dinge in die lewe as mens aanhou sal jy by die einde kom, so het ons bo-op die berg gekom. Dit was 'n lelike afdraande om weer onder te kom, los klippe en skerp draaie.

Hierna het ons die volgende klim aangedurf, ' n egalige gradient wat al die pad opgekronkel het tot 1800 meter bo seespieel. Die resies organiseerders het ons keer op keer gewaarsku oor die volgende doodelike afdraande, wat aan ons senuwees en flou arms gekou het, maar ons is veilig af sonder voorvalle.

Na 'n goeie waterstop het al die Saffas weer opgevang en saam het ons in 'n bondel gejaag oor die volgende plat 20km. Die laaste 5km het gesorg vir 'n stukkie karakterbou, met 'n vieslike en onnodige laaste klim tot in die veilige arena van fietswerktuigkundiges, koue koeldrank en proviant.

Dit was 'n goeie dag. Ons het die been voltooi in 6uur, is steeds heel en ons span moraal goed. Ons is die 11e meisiespan na Dag 1. Ons is baie tevrede.

TransAlps 2011 wegspring






July 15, 2011

Reis na die begin 2

Na 'n kuier in die plaaslike bierhuis moes ons weer laat slaap vanoggend.

Die vars reuk van koffie het ons wel uit die bed gelok. Ons ontbytplekkies was nie by die ander gaste gedek nie, maar aan die familietafel. Gou het ons besef ons gasheer het groot planne om sy opgeskote seun aan Lizeli af te trou;o).

'n Kort treinrit na Mittenwald en toe pak die opgewondenheid ons beet. Fietsryers oral en almal lyk baie sterk en professioneel. Mittenwald is 'n pragtige eg Duitse dorpie. Ons was verras met jong en ou inwoners wat geklee in tradisionele pakkies in die dorpstrasse wandel.

Ons fietse het saam kampeerder & kie (Span Peet en Nelo) opgedaag. Ons het ook vir hoofdrywer Dan ontmoet en Oom Peet met sy voelboek -"Wat flie dan daar".

Ons het gaan registreer en fietse gebou. Pasta partytjie gehou saam met die Oempa orkes, 'n volledige roetebeskrywing in Duits gekry opgesom in twee sinne Engels. Leplekkies gaan soek in die basketbalsaal - my matras en jou matras en daar le ons nou.

More is Dag 1.

Span 269

Nog 'n laaste bier by die eerste Pasta Party (PP)

July 14, 2011

Reis na die begin

Dit was soos die vooraand van kersfees: soos meeste onvergeetlike avonture waar die uitsien en die afwagting die ervaring vereik. Ons tasse was met groot sorg teen 23:50 gepak en vroeer die aand is ons fietse by Peet afgelewer om saam met hom en Nelo in hulle kampeerder Duitsland toe te ry. 'n Laaste dag op kantoor en uiteindelik is ons oppad Munich toe.

Daar is vir maande gepraat oor ons "laaste" bier in die Hofbrau house. Skuins voor middernag het ons sak en pak daar opgedaag en met die intreeslag het ons twee reuse liter biere en 'n Pretzel so groot soos ons voorwiel bestel. Ongelukkig het die oempaloempa orkes kort daarna opgehou speel want dit was amper toemaak tyd. So ons moes daai biere vinnig hulle bodem laat sien.



Met wel gebierde lywe het ons ons leplekkie gaan soek te voet, want taxi's vat ons nie. Ons het ook nie die kortste roete geneem nie, want aanwysings vra ons nie. In die klein uurtjies van die nag het ons by Pension Seibel opgedaag en 'n doodskoot geslaap.

Donderdag was 'n luilekker dag, ten spyte dat ons 'n groot ompad geloop het stasie toe, want taxi's vat ons nie....julle ken die storie.



Ons slaap vannag in Oberau, 'n fraai dorpie aan die voet van die berge. Met die nabye teenwoordigheid van berge was dit moeilik om ons opgewondenheid te onderdruk. Middagete was 'n bordvol Duitse worsies, afgespoel met 'n biertjie (die Hofbrau een was toe nie die laaste nie). Bavaria styl!

July 8, 2011

Heidi's van die berge

Ons moes darem weet of ons regte berge kan trap. Berge met sneeupieke en klimme van 1000m+. Ons wou ook toets of ons malkop sal raak hoer as 2000m bo seevlak;o)
So ons het 'n naweek oorgeglip Switserland toe en in die Junfrau area gaan berge trap. Waar begin mens om te beskryf hoe mooi die Alpe in die somer is? Dalk moet ons die keer nie eers woorde probeer nie en net die foto's deel? (Teen hierdie tyd sal julle weet, as Lizeli eers wegtrek met beskrywende naamwoorde kan die HAT nie bybly nie).
Voor die foto's ons gevolgtrekking:
  • Nommer een, die berge is 'n inspirasie!
  • Ons kan lank klim, aanmekaar, heeltyd.
  • Ons is baie hardkoppig, van fietsbokse dra vir kilometers deur Interlaken (wie gebruik taxi's?) tot aanhou, aanhou trap.
  • Die hoogte vang ons nie, daar was miskien 'n vae hoofpyn Saterdag, maar dit is ook moontlik toe te skryf aan die Jagermeister en biertjie daai oggend 1am in ons hostel se klub.
Dit was ons laaste groot oefennaweek. Volgende is dit.... die TransAlps!

Ons is reg!