April 25, 2011

Wat afgaan moet opkom

Luilekker wakker geword in 'n vakansie bui, want ons staan vandag oor in Zabljak en daar is niks wat ons haas nie. Ons kon al ons bagasie agterlaat en het veerlig gevoel op ons ysterperde.


Ons eerste stop was die toeriste kantoor om seker te maak dat ons mis op niks uit nie. Die personeel en plaaslike joernalis was baie hulpvaardig en opgewonde om te hoor ons kom van Suid Afrika. Die span is blykbaar die eerste Suid Afrikaners om Zabljak te besoek en summier ruk die joenalis oom sy notaboek en kamera uit. Die artikel is reeds pp die internet gepubliseer.....merkwaardig vir 'n land waar ons nog geen internet kafee raakgeloop het nie. Gaan soek Die Span se debuut publikasie by www.vijesti.me


Ons fietsry dag het begin met 'n lieflike 10km afdraand tot op die wal van die Tara rivier. Halfpad af het padwerkers ons bedien met 'n dubbele dosis Rajika nadat hulle OB se bobeenkrag uitgevoel het, die meisies het gelukkig hierdie evaluasie vrygespring.


Onder in die vallei staan rye vrugtebome in bod, piekante huisies op die bank van die Tara. 'n Klein klip kerkie bedien die woord aan die paar mense wat hier bly. In ware Montenegran gasvryheid staan drie bottels Rajika op die drumpel van die kerkhof.







Ons het 'n feesmaal langs die Tara geniet in voorbereiding, want: wat afkom, moet weer opgaan....






So ons moes 1000m hoogte klim oor 10km om te betaal vir die afdraand wat ons in 20 minute afgejaag het. Dit het ons 1 uur en 40 minute geneem, maar ons was sterk en het goed gevoel. Goeie voorbereiding vir wat ons op die TransAlps kan verwag, dit is immers 'n oefenkamp.


Terug in Zabjlek het ons vinning 'n biertjie langs die Black Lake gaan drink en toe kom fietsdiens, want more is ons weer op die langpad.






Snijeg Trap

Vroegdag op na ‘n fantastiese nag se rus met die gedruis van die stroom in ons ore.  Ons word in die pad gesteek met ‘n handvol gekookte eiers in die gees van paasfees en dit was met groot afwagting dat ons die pad na Zabljak aanvat. Die 60km het ons geneem op met ‘n 5km klim tot hoog in die ”Snijeg”  bedekte pieke…klim maak jou sterk.  Hier ontdek ons die pragtige seegroen Zabojsko meer. 

Soos ou hande, of moet ons sê bene, het ons die klipperige grasvelde genavigeer onder toesig van OB (Ouboet  Peet). Hierdie roete is gekies om die kniediepte sneeu te vermy wat lekker aan jou momentum vreet en sorg vir ‘n paar harde, onvermydelike onmoetings met Moederaarde.  Harde woorde is gepreek nou en dan as die meisies die sneeu met ‘n verkeerde lyn of teen ‘n slakkepas aanpak…maar met kan ons sê dat ons tegniese vaardighede saam met ons selfvertroue gegroei het.




Montenegro stel glad nie teleur nie.  Die hele dag in die ongerepte natuurskoon sonder om enige beskawing teë te kom. Ons het vir 7 ure GEEN ander mense gesien nie. Die lappieskombers landskap versier met donswit sneeu, verlate nomade hutte en langhaar skape het gesorg vir prentjie mooi tonele.




Die dag was weereens ‘n treffer! Ons word sterk, ons beleef ware Montenegran gasvryheid met elke kappie Rajika en glimlag, ons ervaar ten volle, rus en leef in OORVLOED. Ons sluit die dag af met ‘n verfrissende Nicksic bier en ‘n welverdiende bord gerookte ham, tuisgemaakte kaas, eier (OB se 8ste eier van die dag) en vars brood. Seer lywe onder ‘n snoesige kombers.  Ons sien uit na more se avonture.

Tara langs

Ons het dou voor dag opgestaan om die 7am trein Kolasin toe te vang, vanwaar ons verder gestrap het.  Met die dat Peet die horlosie 2 ure aangestel het ipv 1, was ons heel betyds.  Die treinstasie en treinreis was soos om terug te tree in tyd.  Kompartemente, tonnels, "die kondukteur kom vra haar kaartjie". Dit was asemrowend mooi.  Mens wil sommer gedigte skryf oor en liedjies opdra aan die landskap. Die trein het al langs 'n hand geloop bo 'n vallei waar die blouste blou rivier kronkel - die Tara. Die berge styg groen bo die vallei uit met sinkhuisies plek-plek neergesit langs vrugteboorde in volbod.

Net vinning oor die foto's. Dit is nie top kwalitiet nie, maar wat ons met die foon neem en maklik kan oplaai.  Terug 'n Londen sal ons goeies oplaai sonder lang stories wat julle kan deurkyk.


Kolasin is 'n pragtige dorpie met 'n ongelooflike en rustige karakter.  Ons moes sterkstaan om nie sommer net daar te bly nie, maar het darem gou 'n koffie gedrink voor ons uiteindelik begin fietsry het. 



Toe begin ons trap.  Die pad het al langs die Tara geloop wat ons uit die trein kon sien en elke kilometer sing jou hart want dit is asof dit net blt mooier raak.  Op pad het ons 'n draai gemaak by 'n nasionale park wat nog toe is tot die seisoentyd, maar met fietse hou 'n toe hek jou nie terug nie.  Die pad klim deur 'n woud tot by 'n meer. Ons het die staproete om die meer met ons fietse gery, so bietjie tegnies maar lekker en MOOI - herhaal ons?








Daarna het ons verder gery tot by Ravnjak waar ons roeteboekie vertel het daar ‘n ongelooflike hotel  is. Die hotel is ongelooflik, maar onder konstruksie.  Die omies het eers ons uitgekyk en gese dit is toe en verduidelik die volgende dorp is ‘n paar kilometer aan.  Ons het bietjie moeg gelyk en bietjie verward en toe gaan hulle maar ‘n Rakija bottle (‘n sterk wit drank). Gee ons elkeen ‘n sopie en gaan wys ‘n kamer sonder water of elektrisiteit.  Nou sit ons hier en drink ‘n heerlike wyntjie wat die omie aangedra het na ons in die yskoue stroom gaan bad het.  Dit is IDILIES, my woorde is op om meer te beskryf. Al wat ons verder sal sê: ons is in ons element en dol gelukkig. (Net Gert kort).







Nicola en Nicsicko

Ons en die Ysterperde het dit gemaak geen probleme! Baie gelukkig!


So het ons by Hostel Izvor aangekom en sit nou en drink plaaslike bier (Nicsicko) en praat met nonsens met die eienaar Nicola. Ook nie regtig nonsens nie hy vertel ons van die land, beperkte geleenthede, politieke uitdagings ens.


Met aankoms het ons dadelik aan die werk gespring en fietse gebou.


Peet het klaar gereel dat ons vannaand braai, so dit gaan goed.  Het wel lekker gelak toe Nicola terwyl hy beduie na Peet se pens, sê hy kan sien waarom Peet moet fiets ry.


Podgorica is maar vervalle en mens kan duidelike tekens van die eerstydse USSR invloed sien, blokkerige grys woonstelle met wasgoedlyne gespan tussen vensters. Hostel Izvor is egter buite die dorp en die omgewing is prentjie mooi.  Ons kan nie wag om môre op ons fietse te spring en verder te gaan ontdek nie.

April 22, 2011

Montenegro - oppad

Geen moeite is te veel nie vir 'n fietstoer deur 'n land wat net die ander dag nog weggesteek was agter die Ystergordyn.


Montenegro was deel van Yugoslavia tot die val van kommunisme in Europa. Daar bly maar net so bietjie meer as 600,000 mense in die land. 'n James Bond fliek het die land weer aan die wereld bekendgestel. Steeds verwag ons min Britte want daar is nie direkte vlugte nie, 'n goeie ding vir 'n bestemming om sy karakter te behou, maar moeite.


En dit is moeite, baie moeite. Ons fietse moes afgebreek word in stukkies gisteraand en in bokse verpak word. Met die drie bokse is ons met die trein lughawe toe waar ons mooi geglimlag en geselsies moes maak sodat die tannie nie agterkom dat ons jok oor die gewig van ons bagasie nie.


Nou wag ons rustig om aanboord te gaan. Hou saam met ons duim vas dat ons die ysterperde sien in Podgorica!





April 17, 2011

Die South Downs af en weer af

Die South Downs af: Die wortel van alle kwaad. Die begin van iets groots. 

Die South Downs Way is 'n 160km roete van Winchester tot Eastbourne in die Suide van Engeland. 

  
Dit het alles begin met ‘n laat somersdag koffie, in die piekante Wimbledon Village. Afrika politiek is bespreek en die oplossing vir meer as net armoede is gevind. Weke later draai dit in ‘n ewige stryd oor wie, nou wie as Facebook vriende genooi het. Die begin van die opswepery, uitdagings, aanmoedig en hardkoppigheid……’n resep vir groot avonture

Dood bekommerd word Lizeli omgepraat om haar eerste 100km op ‘n fiets aan te pak. Daar is met oortuiging belowe dat Marna se “muscle memory” vir beide sal instaan en dat Engeland genadig en lekker plat is. (Die roete word nou wel die South Downs genoem, maar glo ons dit is OP en af). So September 2010 pak die twee malkop meisies , saammet ons getroue trap-genote Nelo, Peet en Michael die Southdowns aan. Dit was ‘n fantastiese 2 dae van mooi groen heuwels en geselligheid, uitgesprei oor 160 km van Engeland se mooiste kuslyn. Die weer was perfek, Marna wat sukkel met "unclip" ‘n bederf en die mini Suid -Afrikaanse reunie ‘n aangename verrassing. Dit was hier waar die droom om die Alpe te tem 'n meer as net 'n gedagte geraak het. Die span het potensiaal begin sien.

Die South Downs weer af: Nou is ons ‘n span


Maart 2011. Winter klere word weggepak en die span word bymekaar geroep om die bul weer by die horings aan te pak. Marna se ‘’one slide deep on Spinning’’ was toe uiteraard reg en die paar Spinning klasse het ons bene lekker sterk gelaat. Toegerus met Johan se nuttelose GPS kaart vir die South Downs Way roete, weereens goeie geselskap en versterkings, pak ons weer die heuwels aan. Die Girls wou nog terug hou, maar die innerlike kompitiese teen self en eie spanlede was net groot (dit was wel die laaste keer……die mans het geskrik en sederdien opgevang). Bring ‘n uitdaging en die span sien potensiaal. Die ski hange…'n “downhill”….en vir sommige die styl berg op! Hierdie ure word goed benut om wysheid te deel op vele gebiede. Daar word toerusting gepraat, komponente vergelyk, geoefen om binnebande te stop en buitebande te red. Lewenswysheid word ook gedeel…..die mense se psige ontleed en inhirente behoeftes beredeneer en die resep vir ‘n gelukkige huwelik word oorgedra. Kontak die span gerus vir verdere inliging, teen ‘n klein fooitjie natuurlik. Baie ure later pak ons af by Washington, waar ons met ope arms, opgeslaande tente en ‘n warm stort ontvang word deur ‘n wonderlike ondersteuningspan, Gert, Heike en Sarah. Dis koue bier en pastei, lam skenkel en appel tert!!Waarvoor meer kan jy vra as om die aand af te sluit deur bietjie te gaan lepel met jou beste vriend….so betroubaar en vol verrassings. Jou fiets en jy (ook jou man of vriendin), snoesig in die tent.

Dag twee begin bitter vroeg, met ontbyt onder die badkamer verwarmer want ons tente moes donker opgeslaan en gepak word sodat Gert betyds in sy kanoe kon wees vir sy wedvaart in Wiltshire. Ons spring net voor sonsopkoms in die pad. Die heuwels is makliker as wat dit 6 maande van te vore was, ‘n aangename ontdekking. Die ouens trek voor vandag en lyk goed
. 8 ure later trek die groot blou see voor ons uit en met ‘n diepe tevredenheid kan ons se dat ons het dit weer oorkom. Die South Downs het weer gesorg vir goeie ure in die saal, vir sonskyn op ons waswit velle en het net die lus kom losmaak vir die volgende paar maande se avonture.



Nelo KYK hoe die meisies hulle band regmaak



Die South Downs


Aandete saam met die ondersteuners
(Van links: Nelo, Heike,Lizeli, Marna, Gert, Johan Olivier, Sarah)



Ontbyt in die badkamer




Rocky: Marna se fiets (Lizeli se droomfiets)


April 12, 2011

Wegspring in Wallis

Mens voel nogal vaal as jou antwoord op "Wat het jy die naweek gedoen?" elke week "Fiets gery" is. Vra eerder "Waar het julle die naweek fiets gery?" want dit is elke week anders en meer interessant.

Deur die koue wintermaande het ons die oefenprogram in die Spinning klas afgeskop. Marna is mos 'n groot voorstaander van Spinning met haar standaard  "one slide" (Voetnota A)  op die onderwerp- "Spinning maak jou sterk"

Einde Februarie was ons eerste oefen naweek weg. Ons is saam met 'n klomp manne wat vir die  Cape Epic geoefen het Afan Forrest in Wallis toe. Ons was so bietjie bekommerd oor die naweek want dit was 6 weke voor die Epic so hulle was op hulle piek fiksheid en ons het net 'n paar ure Spinning agter die blad gehad, maar ons het hulle en onsself beindruk;o).

Die omgewing was pragtig en ons het goed gelyk op ons fietse. Die roetes was baie tegnies en ons het glad nie sleg gevaar nie, selfs M het by 'n paar wilde rotse afgery - op haar tyd. Eie aan Wallis het ons in een dag sonskyn, reën en sneeu gehad, maar vir Februarie konons nie vir beter weer gevra het nie.  Ongelukkig het ons nie 'n kamera by ons gehad nie,so geen foto's die keer nie (dit sal nie weer gebeur nie).

Van die fiets af het ons baie lekker gekuier by die vervalle huis wat ons gehuur het en naby geleë Pub. Kwaliteit mense.

Moet se die naweek het ons nogal selfvertroue gegee vir wat kom. 'n Top naweek op die fiets en eerste van vele.

Voetnota A - "One slide deep" - jy moet altyd iets op 'n onderwerp weet. Net een sin wat jy in 'n gesprek kan gooi wat dit laat oorkom asof jy weet waaroor gepraat word.